29 September 1969

Dit is lente. Tulbagh, Wolseley en Ceres se bome staan vol in bloeisels, te pragtig om te aanskou.

Dit is Maandag 29 September 1969 en almal is besig met die gewone take, maar kort – kort is daar ‘n dreuning wat ons laat frons en wonder waar daar alweer rotse weggeskiet en die aarde verniel word. So 9:30 die aand is ons kamer toe vir ons nagrus. Skaars in die bed of ‘n geweldige dreuning en beweging roep ons regop en uit die bed. Die aarde dreun, my kop is dronk van skrik, toe raak dit erger en erger! Ek spring uit die bed hardloop gang af na my kinders se kamer toe, my man gaan na my ou Vader, wat by ons kuier, se kamer. In die gang maak die vloer soos ontstuimige branders. Ons gryp mekaar en na die mure, struikelend en sukkelend om onsself, die kinders en pappie uit die huis te kry. “Kom vinnig na buite, elkeen met ‘n kombers om en maak gou!” skreeu my man, Roelf.  Die kinders is bewend en huilend en my pappie dood verskrik. Ons is gly, gly oor die ingelegte flesse vrugte en konfyt, dwarsdeur stukkende borde en glase oor die kombuisvloer. Te vinnig om seer te kry. Die mure om ons beweeg nader en weer weg. Niks staan stil nie en mens gryp tevergeefs na iets, alles beweeg! Buite moet ons keer vir elektriese en telefoon-drade wat in die pad afgeruk lê. Verskrik, stilswyend, vraend kyk ons mekaar aan en wonder wat aangaan.

Al wat leef is angsbevange en buite hulle huise. Ons weet nie watter kant toe nie, waar sal ons veilig wees? Alles om ons is stukkend. Ons staan bewend en wag op wat volgende gaan gebeur. Ons kyk op na die berge. Sou dit ook gebewe het? Ons vra hoekom? Wat was dit? Wat gaan ons maak, waarheen, hoe? Almal staan verwonderd, onwetend, onseker en bang!

“Kinders… kyk die vure in die berge. Is dit nie die wedekoms nie?” vra sê my ou vader met angsbevange gesag. Die kinders huil! Roelf sê net, “Pa.” Ons staan nader aan mekaar en die harte klop sodat ons gewaar en bewus is van elkeen se nabyheid. Bewus van die almagtige se almag. Dit was nie meer vir ons lente nie, maar ‘n vreemde wêreld. Alles is stukkend en deurmekaar.

Ons is bang vir ons huise met die bewende mure. Daar is geen water en geen krag. Ons is bang, bang en stukkend! Waar moet ons begin?

Ons het weer na alles opgestaan en opnuut besef dat ons niks is nie!

Elke jaar en selfs weer op die aand van 29 September 2016 rondom 10 uur se kant, lui die kerkklokke van Tulbagh, Wolseley en Ceres net om ons weer bewus te maak van ons swakheid, ons einlike niks wees…

Immanuel

Skrywe: Christene Zeeman

History of wolseley 1969 earthquake